Onbeskryflike genade

Onbeskryflike genade

Die dag toe Stefaans my voordeurklokkie gelui het, het ek ʼn sagtheid om hom gevoel, eerder as gesien. Daardie tipe sagtheid in iemand se energie wat jy van wéét, wat jy voel en beleef, het ek vantevore ervaar toe ek dokter Emanuel Taban by my ma se sterfbed sien staan het. Daardie energie is die tipe grootsheid wat meer is as wat woorde kan beskryf. Jy beleef dit met jou hele wese.

Hoe resenseer jy iemand se lewensverhaal sonder om te oordeel?

Tydens die lees van die boek het ek my notas versigtig gemaak, ek het uitgestel, want dit is skokkende leesstof, heeltemal in teenstelling met die mens Stefaans Coetzee wat ek leer ken het. Dis moeilik om die (geskiedkundige) woede met sy liefde te versoen. Tog is woede menslik, ons almal ervaar dit. Dis egter te verstane dat hy sy donkertes nou skerper bevraagteken as ander mense. So ook die behoefte aan erkenning en aanvaarding wat hy skerp bekyk. Die neem van verantwoordelikheid vir jou keuses, sonder om blaam te verskuif, om vryheid te vrees, aanpassing en die vrede wat tevredenheid bring is alles aspekte waaroor Coetzee besin.

Die selfinsig wat in hierdie bundel te lees is, die eerlikheid waarmee Coetzee homself bekyk en soms kruisig, die gewilligheid om te verander, dui op ʼn mens wat sy lewenspad stap, met elke klip en hindernis daarin ingebou.

Onbeskryflike genade stel Stefaans Coetzee voor as ‘n deelnemer aan ‘n groter geestelike gesprek wat ons almal aangaan, of ons gelowig is of nie.

(Uittreksel uit ‘n resensie vir die Taalgenoot)

August 10, 2023