Ratings1
Average rating4
Reeds as ’n dogtertjie in Kenia leer Hannli die pyn van verlies ken. Ná die MauMau-aanvalle, moet sy en haar gesin hul plaas verlaat en Suid-Afrika toe verhuis. As student beleef sy ’n erge trauma waarvan net haar ouma Hannie, by wie sy haar sesde sintuig geërf het, weet. Toe kom Buks Vermaak, en ná jare se gesukkel, ’n dogtertjie, Nell. Maar ’n droomhuwelik met Buks was haar nie beskore nie. Toe hy sterf, verkoop sy die huis in Pretoria en gaan woon in hulle strandhuis in Salt Rock. Sal haar ouma se belofte van ’n gelukkige lewe vir haar hier op Salt Rock waar word – of lê haar geluk verder noord in die Afrika-landskap van haar kindertyd?
Reviews with the most likes.
Dit is ʼn sensitiewe roman wat tot in mens se diepste wese spreek, om jou eie verganklikheid, vrese en verdriet in perspektief te beskou. Die dood as deel van die lewe, word ongemerk deel van die verhaal, omdat daar meer konsentreer word op die emosionele belewing van die karakters.
ʼn Spirituele draad is soos ʼn ragfyn spinnerak dwarsdeur die boek geweef, om sin te maak van bitter moeilike situasies. Dit is duidelik dat Connie Luyt baie diep put uit ʼn universele bron van oerkennis en wysheid.
Mense wat Irma Joubert, Marina van Zyl en Wilna Adriaanse se werk geniet, behoort ongetwyfeld by hierdie boek aanklank te vind. Dit het dieselfde diepte, lewenskwessies wat aangeraak word, geskiedenis en respek vir die natuur wat slim ingevleg word en nooit vervelig raak nie.