Ratings1
Average rating4
Toe Elfrieda ná ʼn lang koma uiteindelik haar oë oopmaak, is haar kop leeg. Angs pak haar toe sy in ’n Durbanse hospitaal besef sy kan níks van haar verlede onthou ná sy voor ’n motor ingehardloop het nie. ’n Terloopse opmerking deur Michael, die neuropsigiater wat na haar omsien, bring ’n flits herinnering: Voor haar sien sy ’n vaalgroen boekie oor die lewe van die ontdekkingsreisiger David Livingstone se vrou, Mary. Met behulp van Michael begin Elfrieda stadig die legkaartstukkies van haar geheue aanmekaar sit. Maar die onthou bring seer: Soos die herlewing van die tragedie van haar pa se ongeluk tydens ’n vakansie by die see en haar ma se kille verwyt en woede daarna. Elfie se pad na vergifnis en vrede verby die skok en ontsetting van onthou is lank. Onderliggend aan haar verhaal loop nog ’n verbeeldingstog: Die grootliks onbekende storie van Mary Livingstone, wie se lewe skaars ’n fluistering in die geskiedenis was.
Reviews with the most likes.
Jare gelede het ek Lang skaduwees in Afrika van Connie Luyt ‘n heerlik leesbare boek gevind, en in die proses geleer van ‘n stuk geskiedenis waarvan ek min weet: die uittog van boere na Oos-Afrika na die Anglo-Boereoorlog. Ook oor die rol van die Mau-Mau om boere weer te verdryf. Dit was vir my ‘n boek met baie diepte en temas wat tot my spreek. Tog was dit die gemaklike skryfstyl en leesbaarheid wat ek onthou.
Daarom was ek bly om weer ‘n boek van Connie Luyt te sien en Waar onthou begin stel nie teleur nie.
Om jou geheue te herwin en geheueverlies te verwerk na ‘n traumatiese gebeurtenis, bring nie altyd die antwoorde wat ‘n persoon graag wil hoor nie. So was dit ook vir Elfie, die jong vrou met baie name: Elfie, Elfrieda, Pixie, Veda.
Sy word wakker uit ‘n koma en ervaar geweldige angs omdat sy niks kan onthou nie. Geleidelik kom flitse terug, met behulp van die geduldige psigiater, Michael. Die vaalgroen boekie oor die lewe van die ontdekkingsreisiger David Livingstone se vrou, Mary, laat haar die eerste flitse van haar eie kinderjare onthou. Sy gaan op ‘n verbeeldingsvlug met parallelle tussen haar en Mary Livingtone. Daarna word brokkies van haar lewe soos ‘n legkaart gepak, maar pleks dat dit ‘n sinvolle geheel vorm, tuimel dit inmekaar soos ‘n stapel Jenga-blokke.
“Vir jare al wil ek so graag onthou, maar noudat my wens waar geword het, wens ek om te vergeet.”
Die leser word dadelik georiënteer ten opsigte van gebeure en word in die verhaal ingetrek, sonder dat enige iets ooit voorspelbaar word. Inteendeel, dit is vol kinkels en onverwagse draaie, maar nooit vergesog nie.
Ons aanvaar so geredelik dat goeie verhoudings en koestering van kinders in gesinsverband ‘n gegewe is, maar hierdie verhaal waar verlies ervaar word en wrokke gekoester word, wys dat dit nie vanselfsprekend is nie.
Die karakters is lieflik en haatlik, die balans is net reg.
Wat my gepla het is dat daar gewissel is tussen psigiater en sielkundige vir Michael se beroep. ‘n Psigiater is tog ‘n mediese spesialis en ‘n sielkundige nie. Ook lastig was outydse woorde, wat stellig nie in ‘n moderne jong vrou se woordeskat is nie. “Mamma, kom ons kom ooreen dat ons kiets is ...“
Mense wat Helene de Kock, SD Fourie en Irma Joubert se boeke geniet, behoort ongetwyfeld hierdie een te geniet. Dit het dieselfde diepte, lewenskwessies wat aangeraak word, geskiedenis wat slim ingevleg word en is nooit vervelig nie.
Hierdie resensie het in Die Burger, Beeld en op Netwerk24 verskyn.