Ratings1
Average rating4
Ons loop saam met Mariaan deJongh deur die magiese landskap van die dorpies Killaloe en Ballina, waar sy uitkyk op ʼn meer terwyl sy besig is met die vertaling van Afrika-mites en legendes, as deel van ʼn skrywersverblyf. Sy moet nog ʼn traumatiese gebeurtenis tydens die studente-opstande in Suid-Afrika verwerk. Sy ontmoet vir Declan O'Brien, sy suster Lisbeth en maak vriende met die passievolle Darcy en Catriona, wat verlang na haar man.
Die leser word ʼn kykie gegee in die lewens van gewone mense in Ierland, hulle gelowe en bygelowe. Dwarsdeur die verhaal word Ierse mites en legendes uit ander eeue steeds deur mense geag en beoefen. Deur haar verhouding met Declan en die veearts Humphrey, sien ons hoe familiebande ly onder verbintenisse met die Katolieke kerk en die Ierse Republikeinse Leër, hoe families uitmekaargeskeur word daardeur.
Vir Mariaan word die rol van water in haar lewe wat vroeg in die boek vir haar voorspel word, tydens ʼn reddingspoging duidelik. Sy kry haar vlerke in die water en maak gereed om as ʼn nuwe getransformeerde self die lewe aan te pak.
Lesers van Irma Joubert en Bets Smith se boeke sal ongetwyfeld aanklank vind by Marie Spruyt se werk.